.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.



 
 
 

"Waar Kanada my in die steek gelaat het, het 'n sagte en liefdevolle vreemdeling ingetree," skryf me. Leslie Cockwell, die Kanadese vrou wat verlede jaar in Suid-Afrika verkrag is en nou 'n liefdesverhouding het met M.C. Botha, die digter en skrywer van Hermanus. Die Kanadese owerheid het Botha se onlangse aansoek om vir twee maande by sy geliefde in haar vaderland te gaan kuier, afgekeur. Die Kanadese immigrasie-owerheid het klaarblyklik lont geruik.

Botha, wat toe nog getroud maar vervreemd van sy vrou was, het op sy aansoek vir die visum aangedui hy is getroud. En dan wil hy die twee maande by 'n enkelvrou, Leslie Cockwell in South Limberlostweg, Huntsville, Ontario, deurbring. Hoogs onwaarskynlik, het die beamptes besluit. Botha sê hy het begrip dat visumbeamptes volgens riglyne werk, maar as van hom verwag word om heeltemal eerlik te wees, hoekom is hulle nie?

"Hulle wou weet waarom wil ek as getroude man 'n enkelvrou gaan besoek. Ek het aan hulle verduidelik die aansoekvorm maak nêrens voorsiening vir status van "vervreemde huweliksgenoot" nie. Ek was tot die laaste oomblik eerlik." Nie eens 'n skriftelike pleidooi van Cockwell aan die Kanadese hoë kommissaris in Suid-Afrika waarin sy noem dat Botha vir hierdie tydperk by gemelde adres woonagtig sal wees, kon die situasie beredder nie. In die pleidooibrief, waarin sy juis van die "liefdevolle vreemdeling" praat, trek Cockwell kwaai te velde: "Waar was my land in my tyd van nood? Het Kanada my gehelp in die hospitaal? Het Kanada gehelp om medisyne te kry en daarvoor te betaal uit vrees dat ek dalk vigs opgedoen het? "Het Kanada my op enige manier gehelp met die borgtogaansoeke en verhoor van die skuldiges?"

Cockwell is in Januarie 2001 in Hermanus erg deur drie mans aangerand, verkrag en vir dood agtergelaat. Sy het drie maande later, nadat niemand in hegtenis geneem is nie, self R50 000 uitgeloof vir inligting. Twee weke daarna is drie verdagtes in hegtenis geneem. Botha, ook redakteur van die plaaslike koerant in Hermanus, en Cockwell het mekaar in die hof ontmoet. Hy vertel: "Ek het langs haar gesit en gesien hoe sy bewe toe die drie beskuldigdes ingestap het. Daarna is alles soos 'n liefdesverhaal. Ek het nie daarom gevra nie."

Cockwell sê in haar laaste brief: "Na my ervaring het ek en Botha 'n geestelike band opgebou. Van die begin af het ek baie vertroue in en respek vir Botha wat steeds vandag sterk is en tot 'n mooi, geestelike liefde gegroei het." Sy het selfs sover gegaan om die kantoor in verbinding te stel met haar invloedryke pa, Jack Cockwell, uitvoerende hoofamptenaar van die maatskappy Brascan. Hy is glo 'n soort Kanadese Anton Rupert. Sy het ook voorgestel dat die visumbeamptes die Kanadese adjunkpremier, wat met haar pa bevriend is, in verbinding tree.

'n Woedende Botha wil weet: "Watter gevaar kan ek vir Kanada inhou as ek 'n paar weke lank wil gaan deurbring by 'n Kanadese burger wat uit die kake van die dood in Suid-Afrika ontsnap het?" Me. Suzette van Niekerk, by die Kanadese hoë kommissaris se kantoor in Kaapstad, sê by navraag Kanadese wetgewing verbied haar om kommentaar op die geval te lewer. Botha is nou meer vasbeslote as ooit om aan te hou veg om sy reg om sy geliefde te gaan besoek. Hulle sal dan verder oor die ontwikkeling van hul verhouding besin. *Vincent Cruywagen








Het jy al ooit opgemerk hoeveel makliker dit is om per ongeluk 'n kreukel in jou hemp in te stryk, as wat dit is om daardie einste kreukel weer uitgestryk te kry? Dit bly ook nie net by hemde nie. Nasies is ook soos groot stukke lap, en die geskiedenis soos 'n reuse-strykyster, wat dikwels meer kreukels instryk as wat hy uitstryk. Elke nasie het sulke lelike kreukels in sy kollektiewe siel. Vir Amerika is dit die gruwelike burgeroorlog en Vietnam, wat maar net nie hulle lê in die geskiedenisboeke kan kry nie. Vir Duitsland is dit die Nazis. Vir die Jode is die Holocaust.

Afrikaners is nie uitgesluit nie. Ons het vernaam twee groot kreukels in ons siel, en skynbaar kan die strykyster van die geskiedenis hulle nie uitgestryk kry nie. Die eerste kreukel is die Anglo-Boere-oorlog van 1899 tot 1902. Jy kry tot vandag toe nog omies wat maar net nie uitgepraat kan raak oor hoe wrede onreg die Ingelse "ons" toe aangedoen het nie. Ek plaas die woord "ons" in aanhalingstekens, want niemand wat in daardie oorlog betrokke was leef meer nie. Jy sal ver gaan soek om selfs 'n persoon te vind wat iemand geken het wat in die Boere-oorlog betrokke was. Arme Koningin Lizzie (of "Mev. Windsor" soos Robert van Tonder na haar verwys het), was nog lank nie eers gebore nie. Maar tot vandag toe word dit teen haar en haar volk se koppe gegooi: "julle" het 26 000 van "ons" vroue en kinders in konsentrasiekampe uitgemoor!

Mens sou nou dink dat 'n volk se perspektief na 'n honderd jaar effens sou verander, maar nee. Skynbaar gaan ons die Ingelse dit nooit vergewe dat hulle voorouers barbare was nie. Ons eie voorouers was natuurlik toonbeelde van beskaafdheid, nie waar nie? Bly tog blank, my volk!

Daardie laaste sin bring my nou by die tweede, en heelwat leliker, kreukel in ons siel, naamlik die hele fascistiese Apartheid-ding. Ook nou saliger, en al reeds 'n goeie dekade lank in sy graf. Maar hierdie een gaan langer by ons goël as die Boere-oorlog. Moontlik bewerkstellig dit nog die ondergang van ons hele kultuur.

Eers het die dekades van bevoorregting die Afrikaner lui, sleg en hopeloos geïnstitusionaliseerd gemaak. En nou is ons so obsessief oor hoe onregverdig alles is, en hoe boos Apartheid was, dat ons aan niks anders kan uitdrukking gee in ons kultuurlewe nie, behalwe as mens 'n vulgêre en oppervlakkige humorsin "kultuur" kan noem.

Neem nou maar 'n Suid-Afrikaanse fliek wat onlangs hier in teaters begin draai het: "Promised Land." Volgens kritici is die film uit 'n tegniese oogpunt asemrowend. Maar ek is nie juis lus om dit te gaan sien nie, want ek het dit nou al 'n duisend keer gesien. Raai waar speel dit af. In die Karoo, natuurlik. 'n Suid-Afrikaner keer na jare in Brittanje terug na die familieplaas in die Karoo, en daar word hy deur verstokte verregses gekonfronteer.

Kan ons kultuurlewe nie hierdie tipe van ding nou maar agter ons laat nie? Apartheid is nou verby, en daar is nie veel van die verregses oor nie. Hierdie wroeging oor al die boosheid in die wêreld is al so holrug gery soos Eugene Terreblanche se perd. En net soos hierdie arme dier op die gladde plaveistene van Kerkplein rondgesteier het onder die gewigtige boereleier, steier ons kollektiewe siel ook verward rond, sat gery deur 'n tragiese geskiedenis en sonder 'n idee van hoe om by groener weivelde uit te kom.

Die van ons wat nie alreeds daar woon nie, kan gerus gaan kers opsteek by lande soos Australië en Kanada. Hulle het immers ook 'n lang pioniersgeskiedenis, en het ook deur tye gegaan waar daar bitterlik teen inboorlinge gediskrimineer is. Hoe is dit dat hulle daarin kon slaag om die geskiedenis agter hulle te laat? Gaan kyk 'n slag 'n Australiese film soos die ontroerende maar skreeusnaakse "Muriel's Wedding." Kyk hoe lekker kan die Australiërs hulself spottend psigo-analiseer, sonder om in narsissisme of vulgariteit te verval. Of probeer iets uit die magiese wêreld van die Kanadese filmindustrie, soos "Jesus of Montreal." Geen teken van eindelose sielewroeging nie. Ook geen teken van van die vieslike ligsinnigheid wat so kenmerkend van so baie Afrikaanse films geword het nie.

Waarom kan ons dit nie ook begin doen nie? Is die kreukel in ons siel dan so diep dat niks hom weer gaan uitstryk nie? Is daar vir die Afrikaanse kultuur werklik geen ander toekoms as buite Suid-Afrika nie? *Brian van der Spuy





1. Die weer. Suid-Afrika is vir die grootste deel eintlik 'n semi-woestyn en die weer is glad nie die beste te vinde op die aardbol nie. Vir vele mense is bloedige hitte, voortdurende en katastrofiese droogtes, massas stof, roet, rook en velkanker nie 'n goeie beskrywing vir die term "lekker weer" nie.

2. Politieke onstabiliteit. SA is tans stabiel en 'n model vir die hele Afrika, maar tien jaar gelede is dit ook van Zimbabwe gesê.

3. Kan 'n mens werklik nog iets vertrou wat uit Afrika kom? Feitlik nie 'n enkele land in Afrika het 'n positiewe groeikoers nie, Vigs is lankal buite beheer; mense is steeds honger & sterwend.

4. Swak infrastruktuur. Openbare vervoer, biblioteke, skole, of openbare enigiets verkrummel daagliks. Weliswaar is SA by verre beter daaraan toe as die res van Afrika, maar wil mens werklik jou eie standaarde meet aan die van Afrika?

5. Gevaarlike paaie. In 'n onlangse persverklaring het die minister van vervoer erken dat pogings om die ongeluksyfer te verminder grootliks misluk het, en die tol van gruwelike ongelukke duur voort.

6. Minibus-taxis. Die grootste oorsaak van bogenoemde probleem, maar niks word gedoen om hulle behoorlik vas te vat nie.

7. Swak opgeleide en dikwels skelm verkeerspolisie.

8. Korrupte en onbeholpe polisiedienste. Vloedgolf van misdaad verteer boonop die goeie eerbares tot die punt waar vele van hulle die mag verlaat, of senu-ineenstortings kry, of selfmoord pleeg.

9. Stedelike metro-polisie wat in werklikheid 'n groter gevaar vir die publiek inhou as vir misdadigers - lees maar die koerantberigte.

10. Misdade soos aanranding, sakkerollery, vandalisme, openbare rusverstoring, rommelstrooiery word meesal geïgnoreer. Dis tog mos nou nie so ernstig nie, of hoe?

11. Oorlaaide regstelsel. Sake word gereeld vir maande en selfs jare uitgestel. Dikwels word onskuldige mense jare lank aangehou, of skuldiges kry borg en pleeg dan verder misdaad.

12. Oorlaaide en korrupte gevangenisstelsel. Personeel help selfs gevangenes om te ontsnap, of voorsien hul van dwelms en wapens!

13. Grootskaalse bende-aktiwiteite in tronke word nie stopgesit nie. Die onskuldiges dra maar die gevolge.

14. Om tot gevangenisstraf gevonnis te word, is ook gereeld 'n vonnis om met HIV besmet te word. Verkragting in tronke is algemeen en vele tronkbendes gebruik besmetting as 'n strafmaatreël. Dus is daar is vir minder ernstige misdadigers nie veel hoop op rehabilitasie nie. Tronke word dus staatsgesubsidieerde tersiêre misdaad-akademies.

15. Oorlaaide en korrupte polisie-aanhoudingdienste. Nog voor 'n beskuldigde in die hof verskyn, begin die moleste al. As gevolg van die korrupsie en onbekwaamheid in die polisie, ontsnap misdadigers op groot skaal uit polisieselle. Boonop is aanranding en verkragting ook nie juis raar in oorlaaide polisieselle nie, met die gevolg dat vele onskuldige mense 'n HIV-doodsvonnis in 'n polisiesel kry, bloot omdat hulle op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was en dus as verdagtes in hegtenis geneem is.

16. Swak ekonomiese vooruitsigte. SA se ekonomie groei, maar die groei bly maar stadig en inflasie en verlies van werk groei die sterkste. As gevolg van die swak geldeenheid is ingevoerde items so duur dat selfs die rykeres onder ons dit nie altyd kan bekostig nie. Ingevoerde boeke en CD's is dalk nie noodsaaklik om te leef nie, en die swak rand is goed vir uitvoere. Maar in 'n Westerse land het mens nie in die eerste plek hierdie probleem nie. Duur motorkar, voedselpryse - noem maar op - vernietigend vir 'n ordentlike bestaan.


17. Regstellende aksie. Dit is noodsaaklik en regverdig, maar word ook blatant misbruik. Dit is ewe maklik om te redeneer dat dit onregverdig is.


18. Swak loopbaanvooruitsigte. Behalwe vir regstellende aksie, is daar ander redes waarom SA vir vele professionele mense nie so 'n goeie opsie is nie. Die wêreld word deesdae aan die gang gehou deur hoogs intellektuele tipe werk, soos wetenskap en ingenieurswese. Sonder uitsondering is die "cutting edge" van al hierdie vakgebiede in die Westerse wêreld. Waar gaan jy heen as dit jou ambisie is om wetenskapfiksieboeke te skryf, of 'n konsertpianis te wees, of suiwer navorsing in die sterrekunde of kwantumfisika te doen, of selfs om 'n ruimtevaarder te word op grond van jou meriete eerder as jou geld?


19. Die room van Suid-Afrika se intellektuele oes, is lankal weg.


20. Misdaad - wêreld se misdaadkookpot.

21. Klim in jou kar en gaan ry 'n bietjie rond in Johannesburg. Nadat jy so 'n minuut of twee gewerk het om al twintig jou sekuriteitsstelsels te de-aktiveer,maak seker al jou deure is gesluit, want anders is dit al te maklik vir motorkapers en handsak- en selfoongrypers om jou deur oop te ruk. Ry tog versigtig, want elke tweede verkeerslig werk nie, en mense jaag deur sonder om te kyk. Pasop vir daai &%!!!* taxi wat daar voor jou inswaai! En kyk stip voor jou op die pad. Daar is oral slaggate wat jou kar gaan verniel, en boonop is die sypaadjies so met rommel bestrooi dat dit mens skoon depressief maak. Om nie eers te praat van die mense wat oral staan en teen pale en in blombeddings urineer nie. Hoop en bid dat die verkeersligte almal vir jou groen is, want as jy stop, word jy oorval deur boemelaars, armlastiges en reusagtige swerms straatverkopers wat alles van vrugte tot plastiekspeelgoed tot gesteelde kameras tot kondome by jou venster wil indruk, terwyl drie entrepreneurs mekaar met messe wil bydam om te besluit watter een van hulle ongevraagd jou voorruit met modderige water gaan begin "was". Wanneer jy uiteindelik in 'n parkeerterrein stop, hou maar so bietjie kleingeld byderhand, want jy kan verseker wees daar sal twintig verdere entrepreneurs wees wat ongevraagd vir jou 'n plek sal aanwys, met woeste armgeswaai sal verseker dat jy amper in die geparkeerde motor agter jou vasry, en wat dan geld sal vra vir die "guns". Hulle gaan immers jou kar oppas teen motordiewe ook, en as jy nie betaal nie, gaan hulle die diewe help om jou motor te steel of minstens self die motor se verfwerk bekrap as jou straf.


22. Afgewaterde opvoeding - is 'n matrieksertifikaat nou gelyk aan standerd ses of is dit standerd vier? (Dis nou as dit nie 'n vervalsing is nie). Hoe lank sal enige/nuwe Suid-Afrikaanse grade nog internasionale erkenning geniet?


23. Motorbestuurslisensies - hoeveel kos hulle deesdae en is daar 'n ekstra fooi betaalbaar as jy nie kan lees nie?


24. Onwettige immigrante. Meeste van hulle is nie een van die land se menigte amptelike tale magtig nie, en sou nie werk kon kry nie selfs al het hulle permitte gehad. So raai maar hoe maak hulle hul lewens - en versprei siektes.


25. Barbaarse optrede. Vanweë swak polisiediens neem mense dikwels reg in eie hande en word verdagtes in die openbaar deur "lynch mobs" vermoor.


26. As mense hier die frase "21ste eeu" sien, dan lees hulle "12de eeu". Toordery en tokkelossies-twak. In party dele van die land word mense nog as hekse verbrand. Kinders word vir moetie vermoor en opgesny en BABAS verkrag as geneesroetine teen die Vigsinfeksies...


27. 'n President wat vol hoë ideale is, maar by elke geleentheid hand-om-die-blaas staan met gekke diktators soos Robert Mugabe?, om van sy VIGS-sieninge nie eers te praat nie. (Het die President in die geheimenisse van sy hart ookal lankal opgegee?).


28. Hooggeplaastes wat voortdurend van hulself 'n publieke verleentheid vir SA maak. Madiba se eks het nou al 'n wêreldwye reputasie as aartsskurk. En onlangs gaan staan en sê die minister van Gesondheid, Manto Tshabalala-Msimang, sowaar vir 'n joernalis dat SA nie behoorlike mediese dienste kan bekostig nie, want ons moet wapentuig koop om ons teen 'n moontlike aanval deur die VSA te beskerm!


29. Is daar enige kans dat SA se kultuurlewe ooit gaan bestaan uit meer as die een anti-apartheidsboek, -rolprent en -verhoogproduksie na die ander?


30. Gaan die nuwe huis wat ek vandag koop, oor tien jaar nog bewoonbaar wees? Vandat standaarde nou afgeskaf is, want dit is rassisties om enigiets ordentlik te wil doen, word bouregulasies nie meer behoorlik toegepas nie. Die gevolg? Oral begin huise en ander strukture spontaan inmekaarval.


31. Betaal 'n mens werklik belasting vir geen ander rede as om te verseker dat stadsraadslede dronk, laat of glad nie by hul werk opdaag nie? Hulle woon in luukse huise terwyl rioolwater in die straat afloop, verkeersligte buite werking is en strate dikwels nie meer 'n naambord ophet nie?


32. Gaan ek ooit eendag 'n doodonskuldige meningsverskil kan hê met iemand van 'n ander kleur as ekself, sonder om onmiddellik as 'n rassis gebrandmerk te word? Hoe kan daar ooit versoening en vooruitgang wees as driekwart van die mense nie wil versoen of vooruitgaan nie?


33. Suid-Afrika is lamgelê deur 'n golf van ewig-toenemende misdaad, apatie en 'n welsynkultuur wat stadig meer en meer posvat. Die enigste besighede wat regtig vooruitboer, is die misdaadsindikate. Die regering het geld vir alles van moderne duikbote tot duur onthale vir Mugabe,maar daar is nie geld om misdaad te bekamp, of die VIGS-epidemie te stuit, of 'n eens ordentlike infrastruktuur aan die gang te hou, of selfs net 'n goeie beeld aan die buiteland uit te dra nie. Soos oral in die res van Afrika, is absoluut alles net "vir die show," om te verseker dat die Weste ons sal jammer kry en sal aanhou om hulp te stuur. Wie wil homself nou met so 'n gemors assosieer?











Is daar
nog
'n God?
Klik op
YOUR
VIEWS op die vorige bladsy



















Hier in die laat tagtigs, toe PW nog in Suid-Afrika aan bewind was, het Johannes Kerkorrel eenmaal 'n liedjie geskryf met die titel "Sit dit af." Hy het spesifiek verwys na PW se gesig, wat oral op elke enkele beskikbare TV-kanaal te sien was, dag in en dag uit, en Johannes se raad was dit:
"Sit dit af, sit af,
want dis 'n helse straf."
Nou het die Nuwe Suid-Afrika uitgebreek, en die optimistiese persoon sou hoop dat dit dalk nou beter gaan. Miskien is ons heeltemal te optimisties. Ek was twee jaar in liberale Nederland, waar ek 'n keuse uit veertig kanale gehad het. Van die gewone staatskanale, tot 'n verskeidenheid van satellietkanale. Dit was aanvanklik heel opwindend. Vir 'n tyd lank was ek voortdurend vasgeplak voor die televisiestel, en die afstandbeheer het oortyd gewerk. Ek was veral beïndruk met Discovery Channel: uiteindelik 'n TV-kanaal wat spesialiseer in opvoedkundige programme!

Maar met die tyd raak dit minder opwindend. Na so 'n drie maande kom jy agter dat Discovery ook maar dieselfde ou goed oor en oor wys. En die helfte daarvan is ook nie juis opvoedkundig nie, tensy jy die nuutste samesweringsteorieë oor hoe die Amerikaanse regering die waarheid oor vlieënde pierings verberg, as opvoedkundig beskou. Om nie te praat van die eindelose advertensies nie. Wat dit veral idioties maak, is dat in plaas van om kommersiële produkte te adverteer en sodoende 'n geldjie te maak waarmee beter dokumentêre aangekoop kan word, gebruik Discovery Channel min of meer al die tyd tussen programme om hul eie kanaal te adverteer.

So skakel dan maar oor na National Geographic se kanaal. Hier is immers iets vir die natuurliefhebber. Dit is nou te sê, die natuurliefhebber wie se belangstelling nie verder strek as groot roofdiere soos leeus, krokodille en wit haaie nie. Na so 'n paar maande daarvan dink ek later: as ek nog een enkele program moet sien waarin al wat wilde dier is op sensasionele wyse as 'n gedagtelose moordmasjien uitgebeeld word, gaan ek gil.

So wat bly oor? Vir 'n paar dae lank hou ons die drie of vier fliekkanale dop. Goed en wel wanneer hulle goeie films wys. En soms ook nogal bisar: hulle wys eenkeer 'n Nederlandstalige fliek. Met Nederlandse onderskrifte. Blykbaar is Nederlands so moeilike taal dat die Nederlanders dit self ook nie aldag verstaan nie?

Ons kom ook gou agter dat hierdie kanale ook maar aan Discovery-sindroom ly. Dieselfde films word oor en oor gewys, en om een of ander rede is dit altyd die swakste van hierdie films wat die meeste herhaal word. Hier teen tien-uur se kant skakel jy die stel maar liewer af, want dan is dit tyd vir die aand se sogenaamde "erotiek." Met ander woorde harde pornografie wat selfs 'n oorlogsverslaggewer se maag sal laat draai. Dit hou aan tot vroegoggend. As jy iets anders wil sien, skakel jy maar gou weer terug na Discovery-kanaal, waar een of ander Australiese bosbewoner besig is om gevaarlike slange te terg. "Whoa, buddy!" roep hy uit. "I'm not gonna hurtcha, mate!" As dit opvoeding is, bly ek maar liewer onopgevoed.

Toe ek en Werner na amper twee jaar na Suid-Afrika terugkeer, moet ons natuurlik weer van voor af huisraad aanskaf. En ons besluit: waarom nie voorlopig sonder 'n TV klaarkom nie? Ons is immers nie juis ryk nie. Ons kan altyd later een kry, as daar kernoorlog in die Midde-Ooste uitbreek, of een of ander soortgelyke ramp wat CNN as hoogs vermaaklike skouspel kan aanbied. Dit was nou al maande gelede. Die eerste twee maande het ek die televisie glad nie gemis nie. Daarna het ek nie net die ding nie gemis nie, maar elke dag meer en meer dankbaar begin voel dat ek nie so 'n stuk rommel het om my sitkamer te ontsier nie. Om nie te praat van die ure en ure se tyd wat ek skielik het om my aan meer sinvolle aktiwiteite te wy nie.

Probeer dit 'n slag. Sit in die aand om jou braaivleisvuurtjie en kyk na die sterre (heel goeie kaarte van die konstellasies is goedkoop by meeste boekwinkels beskikbaar, en kan 'n mens se ervaring van die naghemel nogal aansienlik opkikker). Of as die weer sleg is, sit met jou gesin of vriende in die sitkamer, en gesels. Leer 'n nuwe taal aan. Begin skilder. Leer saam met gesin of vriende 'n musiekinstrument speel, en hou elke nou en dan 'n musiekaand. Skryf in op 'n paar interessante tydskrifte, of sluit by die naaste biblioteek aan en volvoer jou voorneme uiteindelik "Lord of the Rings" klaar te lees. Of beste van alles: klim op die internet en lees die nuutste uitgawe van Lekkerbek.

Toe die TV uitgevind is, is dit voorgehou as 'n wonderbaarlike instrument vir massa-opvoeding. Dit kon seker een gewees het ook. Maar in praktyk het dit een van die mees onooglike manifestasies van westerse materialisme en popkultuur geword, 'n soort elektroniese opium vir die massas. Ag nee wat. Sit dit af, sit af. Dis 'n helse straf.
*Brian van der Spuy




 
 

Afrikaanse studente 'n bedreigde spesie?
Dit wil beslis nie so voorkom nie. Binne 'n week of twee het Christa van Zyl, 'n Matie-student, 3 107 handtekeninge ingesamel vir 'n petisie ten gunste van die behoud van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit Stellenbosch - byna net soveel as die getal studente wat in die SR-verkiesing gestem het. Afrikaanse musiek belewe ook 'n oplewing en tot 1 000 jongmense op 'n slag kom bymekaar om lustig Afrikaanse liedjies saam te sing. Hierdie gebeure is betekenisvol as in gedagte gehou word dat tot onlangs nog Afrikaanse studente oor die algemeen redelik onbetrokke was by die taaldebat of die beskerming van Afrikaans. Die pas aangekondigde "Taalplan" vir Universiteit Stellenbosch, wat voorstel dat Afrikaans voorgraads die onderrigtaal kan wees, maar dat alle nagraadse kursusse en navorsing in Engels moet geskied, was die vet in die vuur. Taalaktiviste (en selfs minder aktiewes) voel dat hierdie taalplan die dood in die pot vir US sal wees, aangesien dit geleidelik sal lei tot volskaalse verengelsing. Tydens 'n ope gesprek is die mening geopper dat hierdie taalplan Afrikaanse skole ook sal laat agteruitgaan. "US moet sy plig jeens Afrikaans nakom", is gesê. Die taaldebat het intussen ook 'n draai in die geskiedenislesinglokaal gemaak. 'n Dosent, dr. Sandra Swart, het haar klasse in Engels aangebied, omdat haar Afrikaans te verroes was na 'n lang verblyf in die buiteland. Studente het ernstig daarteen beswaar gemaak. Na hierdie klagtes het die hoof van die departement gesê dr. Swart knap tans haar Afrikaans op en sal binnekort wel in Afrikaans klas gee.