.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.






Die ander dag vra ons redakteur Andreas my om 'n stuk te skryf oor wat in 2003 in en uit gaan wees. Is ek nou al ooit so aan die diep kant ingegooi! Soos ek hom geseg het: ek was nog nooit eintlik in voeling met populêre kultuur nie, so die enigste ding wat ek met sekerheid kan voorspel sal in 2003 beslis uit wees, is ekself!

Maar toe sit ek nou en dink: miskien is dit juis hoog tyd vir 'n opinie vanaf die kantlyn van die samelewing. Diegene wat wel goed in voeling met dinge is, het tog nie nodig dat iemand hulle hoef te vertel wat in is en wat uit is nie. Hierdie tipe van artikel is in elk geval altyd bloot persoonlike opinie, so dalk is my opinie net soveel (of so min!) werd as enigiemand anders s'n. Met daardie caveat agter die rug, hier is my lys van inne en uite vir 2003:

IN - Die internet. Hier in die 1990's het almal mos gedink die internet gaan, soos 'n soort elektroniese messias, ons almal red van armoede en boosheid. Toe bars die IT-bobbel, en toe dink almal weer die teenoorgestelde: die hele internet-ding is leuens, leuens, alles leuens. Nou het dinge tyd gehad om 'n bietjie te kalmeer. Soos met alle nuwe tegnologieë, is die internet goed vir sekere dinge, en swak vir ander. En ons is besig om uit te werk wat die regte toepassing van die tegnologie is.

Dink maar daaraan: ek sit in 'n bloedige warm Suid-Afrika en skryf hierdie artikel. Jy sit na alle waarskynlikheid êrens in 'n noordelike halfrond-winter en lees gedagtes wat oor duisende kilometer deur 'n kabel na jou toe stroom. Alles met die druk van 'n knoppie of twee. Die internet is miskien nie die messias nie, maar dis eintlik ook nie so ver van 'n mirakel nie?

UIT - Amerika. Die VSA het vyf persent van die wêreld se bevolking, maar gebruik iets soos 40% van die planeet se hulpbronne. Geen wonder dan dat hulle so vinnig die wêreld se simpatie na die 9/11-aanvalle opgebruik het nie. Na die Holocaust was die wêreld met soveel afgryse vervul dat Jode tot vandag toe ons simpatie en meelewing het met die gruwel wat die Nazi's hulle aangedoen het. Maar skaars 'n jaar na die aanvalle op Amerika, het ons reg deur hulle vertoning gesien.

Daar was eenvoudig net te veel vlagswaaiery, tromslanery en groot krokodiltrane wat in stadige aksie oor patriotiese wange biggel. Nou het George boonop die Amerikaanse Senaat en Kongres aan sy kant, en hy wil net skiet. Waar gaan hy volgende die bomme laat neerreën? Om nie eens te praat van die duisende Afghane wat sonder verhoor aangehou word nie. Wie dink hierdie man is hy, met sy holle praatjies oor die sogenaamde "axis of evil"?

Ek vrees dat vele meer onskuldige Amerikaners met hulle lewens gaan boet vir hul regering se wandade. Ek hoop hulle kom tot besinning, en word weer die grootse volk wat ek as kind so bewonder het.

IN - Harry Potter. Daardie knaap met sy towerstaf gaan selfs vir Walt Disney nog laat klein lyk. Die nuwe Potter-film het nog nie hier in Suid-Afrika begin rol nie, maar die voorskoue het almal aan die praat. En dan kom die volgende aflewering van Lord of the Rings ook nog binnekort, so almal berei hul voor op 'n fees van fantasie.

Ek dink mense het deesdae 'n behoefte daaraan. Oral rondom ons is die planeet skynbaar besig om in vlamme op te gaan. Wie het nie 'n behoefte aan 'n bietjie ontsnapping nie? Boonop is die Harry Potter-stories (ondanks die besware van 'n klein groepie Christen-fundamentaliste) propvol met goeie, ouderwetse familiewaardes, wat net tot die samelewing se voordeel kan strek.

UIT - Wetenskap. Ja, helaas, sedert die dae toe Galileo homself bloedneus geloop het teen die Pous, hoor ons nou al hoe boos wetenskaplikes is. 'n Klomp elitistiese blanke mans, wat bloot hul eie vooroordele in onverstaanbare teorieë verskans. Hulle vernietig die omgewing, hulle bou atoombomme, hulle martel diere dood in afgryslike en onnodige eksperimente, hulle is gewetenlose ateïste...

Al hierdie gruwels is natuurlik nuus vir die rustige professortjie wat ewe verstrooid en onskuldig in sy laboratorium sit en nuwe medisynes ontwikkel om my en jou aan die lewe te help hou. Ek hoop maar die mensdom gaan hier ook tot sy sinne kom. Daardie stereotipe van die bose wetenskaplike met die Duitse aksent wat beplan om die wêreld oor te neem, bestaan net in 'n alternatiewe Kosmos wat deur Hollywood uitgedink is. In wese is die wetenskap amoreel, nie immoreel nie. Dit is niks meer nie as 'n metode om die fisiese heelal te probeer verstaan en voorspel. Dit maak geen uitsprake van enige aard oor die bestaan van God nie. Dit kan ewe goed vir die goeie as vir die bose aangewend word. En watter een van die twee gebeur, hang van ons af, nie van die wetenskap self nie.

Daar is 'n paar van my gedagtes oor wat die volgende jaar sal inhou, LEKKERBEK hoor graag van joune. *Brian van der Spuy