.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.









Ek is 'n jong Afrikaner in "exile". Ek woon en werk in 'n vreemde land - nie omdat ek van benede vriespunt-weer hou, graag in oorvol moltreine
ry of verkies om 'n vreemde taal te praat nie. Ek is hier omdat my vaderland nie meer vir my 'n toekoms bied nie. En dit maak my bitter - en die duiwel in! Nie die duiwel in vir die ANC nie. Hulle regeer die land en sal natuurlik vir hulle mense sorg. Ek is die duiwel in vir my eie "leiers", mense aan wie ek my toekoms moes vertrou, net om op die harde manier uit te vind dat hulle vere voel vir my en my geslag. Ons kan maar geoffer word. Ons kan maar werkloos wees. Ons moet maar regstellende aksie en die gevolge daarvan aanvaar. Ons moet net nie branders maak nie, want dit kan hulle veilige nessies dalk bedreig. Ons moet maar aanvaar wanneer ons nie beurse kry nie of wanneer ons nie gekeur word vir die beroepe van ons keuses nie, al presteer ons hoe goed. Ons moet maar aanvaar dat ons nie bevordering sal kry nie, al is ons hoe bekwaam. Die "gelukkiges" onder ons wat wel 'n pos in Suid-Afrika het, moet maar gewoond raak daaraan om elke oggend met 'n toegetrekte keel met die swaard van regstellende aksie oor ons kop werk toe gaan. Bek hou.

Vir die van ons wat nie meer langer wil bek hou nie?Klim op 'n vliegtuig oorsee. Dit klink idilies. Verdien ponde of gulde of dollars. Sien die wêreld. Maar wat van die lang, koue wintersaande, ver van almal vir wie jy regtig omgee? Bedags in 'n werksplek vol mense met wie jy bittermin in gemeen het. Beleefde praatjies. Oppervlakkige glimlaggies. Terwyl jou hart verlang na die oop Karoovlaktes, Blouberg se strand, stil Vrystaatse aande met die rook van braaivleisvure wat regop boontoe trek. Jou mense. Jou wortels. Jy gaan vakansies "huis toe". Gaan traag terug. Hoekom bly ons dan nie liewer? Hoekom nie help om Suid-Afrika 'n beter land te maak nie? Laat my sommer reguit sê hoekom ons dit nie doen nie: omdat ons nie vertoue het in die "ooms" wat aan ons leiding moet gee nie. Hulle vertel vir ons perdedinges is vye...en is dan verbaas as ons dit nie glo nie. Van ons word verlang om soos 'n lam na die slagpale gelate regstellende aksie te aanvaar. Glo entepreneurs word. Maar aanvaar tog net asseblief die nuwe arbeidswetgewing. Moenie weerstand bied teen die onbillike diskriminasie in die werkplek nie. En moet in hemelsnaam tog nie 'n kabaal opskop oor taalerkenning. En o-ja, onthou tog dat die verswakking van die rand eintlik goeie nuus is! Moet tog net nie roeringe maak nie, want dit sal hierdie ons politici en mediamanne in 'n moeilike posisie plaas. Hulle kan dit tog nie steun nie. Netnou lyk dit asof hulle nie verbind is tot transformasie nie of dalk nog erger - apartheid ondersteun. Die ANC sal nie daarvan hou nie. Dit kan miskien hulle veilige posisies of transaksies in gedrang bring. So, offer, Boeties en Sussies, Bly stil.

Ons haal ons hoed af vir die enkele voorlopers wat al na vore gekom het om vir ons belange - en veral vir Afrikaans -in die bres te tree. Maar ons eie Afrikaanse koerante val oor hulle voete om diesulkes te diskrediteer. Hulle maak rimpels, sien! Dis nie "polities korrek" nie. Ons hoor van "samewerkende regering". Opposisie wat dit nie kan bekostig om Afrikaner-belange te beskerm nie, want dit sal moontlike swart steun in gedrang bring. As die Boetie en Sussies daarvoor opgeoffer moet word - "so be it!". Die doel heilig die middel. As van my verwag word om te assimmileer en op te gaan in 'n nuwe nasie, doen ek dit liewer hier, in 'n veilige land met eerste wêreld standaarde. Dis opvallend dat die uitgesproke voorpraters van die huidige situasie in die Nuwe Suid-Afrika in lekker beskermde possies sit. Parlementêre setels, universiteitsposte, preekstoele, redaksies en direksies. Maklik om dan voorspraak vir opofferings te maak. Die prys wat betaal moet word, is glo as gevolg van die "legacy of apartheid". Maar ons, ek en my mede-banneling in die vreemde het niks te doene gehad met apartheid. Vervlaks, meeste van ons kon nog nie eens stem toe die ANC ontban is nie! Goed, ons het goeie onderwys ontvang en het die geleentheid gehad om verder te studeer, maar ons moes maar self geld vir ons studies saamskraap - en weer swaar daaraan afbetaal . Ons kwalifikasies het ook nie uit die lug geval nie. Ons moes ons kant bring en sorg dat ons slaag. Die geleenthede wat aan ons as Afrikaner-jeug gebied is, was niks gunstiger as die van die jong Duitser of Amerikaner of Brit nie. Dat derduisende swart Suid-Afrikaners nie dieselfde geleenthede gehad het nie, was verkeerd en natuurlik moet daar maniere gevind word om die foute van die verlede reg te stel. Maar hoekom ten koste van ons? Hoekom moet ons alleen skuldig voel en alleen die prys betaal? Uit die diepte van my hart wil ek aan die Afrikaner-onderhandelaars vra: Is dit werklik die beste wat julle vir jul nageslag kon beding? Dan is daar nog diegene wat ons openlik verwyt omdat ons besluit het om die land te verlaat. Ons laat glo ons land in die steek, omdat ons nie help om Suid-Afrika se wa deur die drif te trek nie. Moet ons dit doen met ons hande agter ons rug vasgemaak? Moet ons die voetsoldate wees van mense wat op 'n bedekte (of minder bedekte) manier vir eie belang voetval voor die regering van die dag? Mense wat diskriminerende regstellende aksie en kwotastelsels goedpraat, omdat hulle weet dit raak hulle nie?. Mense wat met graagte eerder Engels praat? Mense wat maak asof die verswakking van die rand tot Suid-Afrikaners se voordeel is?

Ons sien kans vir moeilike uitdagings. Ja, ons weet misdaad, vigs en korrupsie het Suid-Afrika in 'n wurggreep, maar ons is bereid om die stang te vat. Ons is mos die nasate van voorouers wat vasgebyt het onder amper hopelose omstandighede. Maar dan moet ons darem hoop hê! Ons is bereid om hard te werk en opofferinge te maak, as ons weet dat daar vir ons ook 'n staanplek in ons geboorteland is, dat ons dit daardeur vir ons kinders moontlik maak om eendag 'n toekoms in die land van hul geboorte te hê. Daarvoor het ons leiers nodig wat die vertroue wek dat ons oorlewing hulle erns is. Op die oomblik is ek 'n wêreldburger en verdien ek goeie buitelandse geld. Maar as ek kon kies, sou ek eerder wou huis toe kom.