.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.

.





LANK LEWE AFRIKAANS
Is Afrikaanse studente 'n bedreigde spesie? Dit wil nie so voorkom nie. Binne 'n week of twee het Christa van Zyl, 'n Matie-student, 3107 handtekeninge ingesamel vir 'n petisie ten gunste van die behoud van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit Stellenbosch - byna net soveel as die getal studente wat in die SR-verkiesing gestem het. Afrikaanse musiek belewe 'n oplewing en tot 1000 jongmense op 'n slag kom bymekaar om lustig Afrikaanse liedjies saam te sing. Hierdie gebeure is betekenisvol as in gedagte gehou word dat tot onlangs nog Afrikaanse studente oor die algemeen redelik onbetrokke was by die taaldebat of die beskerming van Afrikaans. Die pas aangekondigde "Taalplan" vir Universitiet Stellenbosch, wat voorstel dat Afrikaans voorgraads die onderrigtaal kan wees (maar nie hoef nie), maar dat alle nagraadse kursusse en navorsing in Engels moet geskied, was die vet in die vuur. Taalaktiviste (en selfs minder aktiewes) voel dat hierdie taalplan die dood in die pot vir US sal wees, aangesien dit geleidelik sal lei tot volskaalse verengelsing.
Tydens 'n ope vergadering waar die taalplan bespreek is, het talle studente hul daarteen uitgespreek. Die mening is geopper dat hierdie taalplan Afrikaanse skole ook sal laat agteruitgaan. "US moet sy plig jeens Afrikaans nakom", is gesê. Die taaldebat het intussen ook 'n draai in die geskiedenislesinglokaal gemaak. 'n Dosent, dr. Sandra Swart, het haar klasse in Engels aangebied, omdat haar Afrikaans te verroes was na 'n lang verblyf in die buiteland. Studente het ernstig daarteen beswaar gemaak. Na hierdie klagtes het die hoof van die departement gesê dr. Swart knap tans haar Afrikaans op en sal binnekort wel in Afrikaans klas gee.
*Besoek gerus www.groep63.org.za vir kommentaar op die US-taalplan.